Ons Omgewing en Geskiedenis

Die Groot Bergrivier

The Mighty Berg River near Moorreesburg

Die Groot Bergrivier het sy oorsprong in die Franshoek berge en is die enigste standhoudende rivier van belang in die Swartland. Die rivier mond uit by Veldrif in die Atlantiese oseaan.

Dit vloei dus van suid na noord. Vir 'n groot gedeelte baan die rivier sy weg tussen 'n breuk in die aarde naamlik vanaf oos in Tafelberg randsteen en wes Malmesbury Skalie.

Vanaf sy oorsprong tot monding is die rivier 220km lank wat hom iets in gemeen gee met die grootste riveir in die wêreld naamlik die Amazone wat op sy wydste plek 220km wyd is.

Die eerste aangetekende droogte tydperk in die rivier se geskiedenis toe die rivier as gevolg van droogte, glad nie gevloei het nie, was 1876 in die maande van April tot Junie.

Twee damme is tans in die Bergrivier naamlik Wemmershoek en Voëlvlei (Langs die Bergrivier maar gevoed uit sy bronne), die tweede dam naamlik die Bergrivierdam in die Berge word tans gebou en sal waarskynlik 8% van die Weskaap se water kan voorsien.

Die Misverstand keerwal tussen Piketberg en Moorreesburg voorsien water aan al die Weskus dorpies.

Aktiwiteite op die Bergrivier

Aktiwiteite op die Bergrivier

Vir baie jare is die rivier ook as medium vir vervoer gebruik - in 1873 het die Stephen broers 'n stoomboot "Spes Bona" gekoop met die doel om goedere van Hopefield te vervoer na Kaapstad. Altesaam 27,500 sak koring, 23,077 sak hawer, 9,235 sak rog asook ander plaasprodukte vervoer.

Later jare is die rivier ook aangewend vir:

  • Besproeïing
  • Ontspanning by verskillende oorde met Club Elani Misverstand oord as die belangrikste ski en "wakeboard" oord.
  • Visvang met groot visvang kompetisies
  • Langafstand roeispan oefening sessies sowel as kompetisies
  • Langafstand swemkompetisies bv. Brian Curtis Mile
  • Jaarlikse Bergrivier kanoe marathon begin in 1962 met 16 deelnemers - tans neem 250 deelnemers

Alhoewel 'n baie belangrike rol deur die rivier in die Swartland gespeel word, is dit interresant om daarop te let dat werklik geen dorp het op sy walle ontwikkel nie. Slegs een dorp is in 1850 op sy walle ontwikkel naamlik Bridgetown, maar die plan het misluk. Bridgetown is tans 'n jeugkamp wat meestal deur skole besoek word.

Ook goed om te weet dat in 1904 het Mnr Warren die spoorlyn deur die Swartland gebou en sy depo op Koringberg gemaak terwyl Morawia 6 km verder die rivier kruis - met ander woorde waar water vrylik beskikbaar sou wees.

Die Misverstand Keerwal

Die Misverstand Keerwal

Diè keerwal staan by baie bekend as die Misverstand Dam - eintlik is dit slegs 'n keerwal wat in die rivier gebou is - bekend as die Misverstand Keerwal.

Soos jy jouself kan indink - met 'n naam soos Misverstand - is daar baie stories opgekink oor die ontstaan van die naam self. Alhoewel menigte interesante verhale, verander dit ook met die jare. Die nuutste een wat die rontes doen is twee ingenieurs wat stry gekry het, die dam nie heeltemal voltooi het nie - daarvandaan die gesakte (keerwal) gedeelte in die middel en toe die plek Misverstand gedoop het. Die keerwal is in 1975 begin bou - 1979 in gebruik geneem.

Die ware verhaal egter soos die voorsate dit oorvertel met elke kampvuur vergadering is as volg:

  • Twee gesinne wat met vee geboer het, het in die laat sewentien honderds getrek uit die Kaap vir belasting vrystelling. (Om te dink daardie jare het hulle dit al gedoen!)
  • Elk het 'n verteenwoordiger vooruit gestuur wat die roete uitgewerk het sodat die twee families na 'n sekere tyd weer bymekaar sou uitkom. Omrede vee boere moes hulle apart trek vir genoegsame weiding vir die vee. Die roete is toe so beplan dat oor 'n sekere tydperk die families mekaar sou kry hier by ons.
  • In daardie jare was daar nie 'n N7 nie en onwetend het die een groep bietjie meer suid gevestig en die ander bietjie meer noord. So het hulle maar vir mekaar gewag. 'n Jaar het verby gegaan voordat die veewagters van die twee families mekaar raakloop agter vee aan. So het hulle onwetend bymekaar gewees maar verby mekaar gelewe. Ek neem aan daar was toe 'n groot partydjie gehou en die plek is gedoop "Misverstand".

Die Ou Wabrug

Die ou Wabrug op pad Piketberg toe

Nog 'n interresantheid om te besigtig is die ou Wabrug. Die bekende bordjie op die N7 verwys na "Die Brug Misverstand" net voor Piketberg.

Die Wabrug is net onderkant die oord. Dit is in 1864 gebou en is die derde brug wat oor die rivier gebou is.

Diè brug was oorspronklik bestem vir Australië. Die boot wat die brug van Engeland af vervoer het moes aangaan by Kaapstad vir herstelwerk. 'n Groter boot, met 'n hyskraan, wat toevallig in die hawe was, het die brug van die boot afgelaai sodat herstelwerk kon begin.

Ongelukkig, of gelukkig vir ons, was die groot hyskraan boot toe nie daar toe die herstelwerk klaar gedoen was nie. Die brug het dus agtergebly in die hawe en is oorgekoop deur die Kaapse Paaie afdeling. 'n Besluit is geneem om die brug hier op te rig.

Die Koring Museum


Die museum is in 1978 gestig en is in die ou NG Sendelinggebou gehuisves. Dit is een van net 3 van die soort museums in die wêreld

Hier is 'n interessante herhaling van die Mieliestronk webwerf:

Die Koringmuseum in Moorreesburg
'n Besoek aan Moorreesburg se Koringmuseum kan 'n mens moontlik heelwat van koring leer wat jy nooit geweet het nie. As dit so moet gebeur dat jy die een of ander tyd daardie deel van Suid-Afrika besoek, kan jy gerus daar inloer.

'n Rubriekskrywer van 'n bekende koerant bestempel dit as een van ons land se interessantste klein museums wat 'n mens herinner aan die belangrike rol wat koring in die geskiedenis gespeel het.

"Daar is in die museum onder meer 'n paar koringkorrels wat uit die jaar 3000 v.C. dateer. Dit is egter nog jonk in vergelyking met oorblyfsels van koring wat met opgrawings gevind is. Volgens navorsers is die gewas einkorn, een van die voorouers van koring, in die Brons- en vroeë Ystertydperke oor groot gebiede van Europa en die Nabye Ooste verbou," skryf die joernalis. "Die museum huisves ook implemente wat sedert 1818 vir die verbouing van koring in Suid-Afrika gebruik is: trekkers, sekels, sense, dorsmasjiene, ploeë en wanmasjiene. Vir die hele gesin is 'n uitstappie na die museum leersaam en interessant..."

Die oudste kerk in Moorreesburg


Moorreesburg het sy oorspong gehad in 1839 toe die destydse Goeverneur van die Kaap, Sir George Napier, die plaas Hooikraal aan Tobias Lochner gegee het.

Aangesien daar geen kerk gebou was nie, het die plaaslike boere en die Eerw. Febre Moorrees besluit om 'n klein kerkie op die plaas Hooikraal te bou. Die kerk is in 1863 opgerig en dorp Moorreesburg het om die kerk ontwikkel. Die dorp is later na die Eerw. Moorrees vernoem.

Die klein kerkie is nog te siene in Hooikraal.